Sunday, February 28, 2010

2010 Maart byeenkoms

'n Klompie van ons, insluitend groepleidster Marie, op die dag waarop ons groepie in Maart sou bymekaarkom na Yzerfontein vertrek vir 'n PFAFF "sew away", het ons die datum vervroeg na 26
Februarie en dit verander na 'n deurnag by Hettie se huis.  Die dames het van 6 nm aangekom en hul groot trek (sommige het selfs kussings gebring asof daar tyd vir slaap sou wees!!).

Daar is in alle erns gestik en idees uitgeruil en vir mekaar prentjies gewys. Sommige soos Melanie het doodstil voortgewerk terwyl Rina van Straaten haar lostrek-tegniek probeer vervolmaak het. Bettie was ten gronde toe sy uitgevind het haar koekiedrukker idee was toe nie so 'n nuwe uitvindsel soos wat sy graag wou glo nie.

Kokkewiet, Petro en Breggie het ongelukkig (vir ons nie vir hulle nie) vele meer talente as net laslappies en het ons vroeër die aand verlaat sodat hulle slaggereed vir 'n ander stokperdjie op die Saterdag kon wees. Connie is al oor die hond se stert en moet nou net haar voltooide blokke aanmekaarkry en Hannetjie het ook al 72 haar blokke klaar voor die nag om is.

Sonja is ook vroeër huis toe, maar nie omdat daar belangriker dinge op haar gewag het nie, sy wou doodeenvoudig net gaan SLAAP!



Ons liewe leidster, Marie, het jou werklikwaar die uitdaging wat haar man aan haar vir die aand gestel het - om 20 blokke te voltooi - nagekom, maar ons almal kan getuig dat dit nie sonder 'n grootskaalse gekerm gegaan het nie en die oomblik toe die laaste blok gestik is - (o ja, sy het werklik na die voltooiing van elke blok, weer by EEN begin en AL haar blokke getel...... elke keer!!)

Daar was hopeloos te veel lekkergoed vir enige gesonde gestel en as ek so na die bakke "sweets" op die tafels gekyk het, het dit somtyds vir my gevoel of ek by 'n kinderpartytjie was. So tussen die eet deur, glo ek darem dat die dames goeie vordering gemaak het en almal is net voor 5vm die Saterdagoggend terug na hul
onderskeie huise.

2010 - Februarie bymekaarkoms

Ons groepie kom een maal per maand bymekaar, tans in die Fichardtpark kerksaal en 6 Februarie 2010 was ons eerste bymekaarkoms vir die jaar.Teen die tyd het bykans almal hul materiaal en kleurkeuses vir die "freemotion sampler" gehad en het die dag in alle erns begin stik.

Ek het toerusting by die universiteit gehuur sodat ons na Leah Day se videos op haar webwerf op 'n groot skerm kon kyk, sodat ons almal kon sien hoe maklik sy dit laat lyk. Die jonge dame is werklik 'n inspirasie vir enigeen wat nog ooit te bang was om "freemotion quilting" te probeer.

2009 Jaareind funksie

As die skrywer van die artikels vir hierdie "blog", het ek (HettiePringle) by hierdie groepie teen die einde (Oktober 2009) aangesluit. Marie Coetzee, die groepleidster het toe gevra dat ek (en/of enige ander lid van die groep) met idees vorendag moes kom, waaraan ons as groep gesamentlik kon werk.

Ek het toe seker so 'n maand of 2 voordat sy hierdie versoek gerig het, Leah Day se "blog" genaamd Daystyledesigns ontdek en heerlik na haar videos gekyk waarop sy "freemotion quilting" verduidelik.

So tussendeur het ek ook begin oefen en dit was dus amper voor die hand liggend dat ek so 'n projek sou voorstel, maar eers moes ek 'n voorbeeld maak.

Kliphard gewerk en met die afsluitingsfunksie van die groep einde 2009, kon ek die voorbeeld vir hulle wys en was almal al emosioneel gereed om met die reuse werk te begin.