Saturday, November 6, 2010

Breggie se familie groei

Een van ons groeplede, Breggie, het haar gesin aangevul met die 2 allerpragtigste katjies, Kadaffi en Daisy en soos op die foto's gesien kan word, het die tweetjies 'n ereplek in ma se hart en word sekerlik geweldig bederf.  Ek dink ek moet my mede groeplede waarsku om nou al te begin spaar vir ingeval ma Breggie ons na die tweetjies se verjaarsdae gaan nooi sodat ons maar geskenke kan koop wat die bedorwe brokkies tevrede gaan stel.  Geniet hulle Breggie.

2010 November byeenkoms

Skaars ons oë uitgevee of die maand was alweer om en tyd vir ons volgende byeenkoms.  Ons beginnersprojekte begin nou vorm aanneem en al lyk of ons iets hiervan kan maak.  Hier is 2 van die beginnerskwilte in wording.
Hannetjie en Marie
Hierdie maand het Hannetjie ons bederf met perskes uit haar tuin (ek hoop nie ek moet iets uit my tuin gee nie, want dit sal net slakke kan wees!!) en Rina het vir ons elk 'n pakkie lekkers gegee.  Ons het weer 4 blokke baasgeraak en so tussendeur die werk die notule van die vergadering bespreek en beplan wat ons vir die laaste vergadering van die jaar gaan doen.  Hier is die groep hard aan die werk.

Breggie en Charlene

 
Rina en Bettie

 
Kokkewiet en Petro het gaan wegkruip toe die foto's geneem word en Sonja en Melanie was ongelukkig afwesig.



En die wenner is.........

Ons groep is nie bietjie trots op die feit dat die algehele wenner van die mussies vir prematuur babas gewen is deur een van ons groeplede nie.  Rina het jou werlikwaar omtrent 'n vyfde van al die mussies wat ingehandig is, gebrei of laat brei.  Baie geluk en baie dankie Rina!!

Hier staan Rina trots by haar prys wat sy tydens die laaste kwartaalvergadering ontvang het, maar omdat sy ongelukkig 'n bietjie laat gekom het, het groepleidster, Marie, haar prys namens haar ontvang asook haar roos vir lief en leed aangesien Rina se seun, Andries, nog baie siek is.  Karin, die huidige sekretaresse van die gilde, oorhandig die roos aan Marie.
Die derde prys is deur Hettie gewen dus het 2 van die 3 pryse in ons groep beland.  'n Mens kan mos net suksesvol vorentoe beweeg in so 'n groep!!