Friday, September 2, 2011

2011 Augustus kwartaalvergadering

Ons groep was 1 van die 2 gasheer groepe vir hierdie betrokke vergadering en dis verstommend dat as 'n mens 'n lid van 'n groep is, wat saamwerk, hoe alles net eenvoudig in plek val.  Alhoewel bykans al die dames in die groep werkende mense is, het omtrent almal 'n plan gemaak om by die vergadering te kon wees.  Selfs dokter Bettie, het vroegoggend eers haar deel kom doen en toe teruggery praktyk toe.  Wat 'n voorbeeld vir almal wat so vinnig kla "ek het nie tyd nie".  Dankie julle, dis heerlik om deel van so 'n span te wees.

Die eetgoed was uit die boonste rakke en is julle nie ook bly ons het eetgoed wat met die hand gevat kon word, gemaak nie?  Dit was dus glad nie nodig vir ons om oor messe vir sny en iemand om op te skep te bekommer nie.
Petro duisend dankies vir die reël van die tafeldoeke en pragtig blomme.  Jy het dit so rustig laat lyk om dit te doen, sprekers te verwelkom/bedank en boonop nog foto's te neem, maar ons weet dit het 'n spul van jou tyd in beslag geneem om als gedoen te kry.  Ons waardeer dit werklik.
Ons 2 sterre van die oggend was natuurlik niemand anders as Breggie en Charlene wie se kubuskwilte omtrent die mense aan die praat gehad het nie.  Het julle gesien hoe almal om die kwilte koek?  Mooi so julle en baie geluk ook aan Breggie met die wen van die kwartaallikse uitdaging met haar vryhand kwilt.  Is dit lekker om so windgat te wees?
Ons groeplede wat die deur so pligsgetrou bewaak het, julle het julle goed van jul taak gekwyt en dankie vir jul hulp daar.
Baie geluk ook aan ons eie liewe groepleidster Marie, wat haar rol as koshuismoeder vir die beplande Nasionale kwiltfees in 2013 aanvaar het.  Ons weet sommer dat as sy ons lot so ordentlik kan beheer, sy sommer kinderspeletjies van die koshuis gaan maak en ons hoop ons kry ook so 'n kleine slukkie om daardie botteltjie om haar nek!!
Vir almal wat so gesukkel het om daardie piepklein "binding" om die boekmerkies vir deurgeskenke te sit, julle kan werklik trots wees op julself.  Die ontvangers van ons groep se boekmerkies is bitter beindruk en nou weet julle ook dat julle in staat is om dit te doen - klein of te nie.

Nou toe, as jou naam nou - soos myne - nie genoem is nie, dan het jy heel duidelik te min gedoen.  Grappie!! - almal het hul deel bygedra om 'n goeie vergadering moontlik te maak.  Dink net nou kan ons vir 'n hele jaar en 'n half weer die bywoon van vergaderings geniet, sonder om 'n steek werk te verrig.

Sien julle almal weer more-middag