Sunday, December 4, 2011

2011 Desember byeenkoms

Daar hou ons toe ons heel laaste byeenkoms van die jaar.  Gits julle, dit voel soos 'n paar maande gelede dat ons begin het met ons 2010 boompie kwilte en hier het die jaar daarna al verbygevlieg

Eers wil ons almal vir liewe Rina bitter baie geluk sê omdat sy haar Kleurvolle Kubus kwilt se BOKANT uiteindelik klaar het.  Geweet jy sal swig onder die druk, maar komende Woensdag vier ons dit ordentlik!  Nou moet die outjie nog net deurgestik word nê?

Nadat Rina so bitterlik met haar voltooide bostuk gespog het, was dit tyd vir ons groep om aan die werk te spring.


Petro, wat terug is van haar oorsese omswerwinge moes net gou eers haar naels vyl, maar het toe aan die werk gespring met hierdie pragtige kaleidoskoop kussingsloop wat met die hand verder opgetooi word.














Ons juffrou vir die dag was Ria van der Merwe, wat ons omtrent behoorlik ingelig het oor die gebruik van SOLVE/Avalon vir die maak van materiaal bakkies asook verskeie ander items.




Connie, wat al lekker skeef kan sit na haar rugoperasie, het eers gedink sy gaan aangaan om haar beginnerskwilt met die hand deur te werk, maar ons het haar gou genoeg ingetrek om ook 'n materiaalbakkie saam met ons te maak.



















Anida het ook aanvanklik gedink sy gaan kom rondsit en niksdoen totdat sy ook SOLVE in die hand gestop is om haar materiaal bakkie te maak.  Jammer ons het jou af middag so omvergegooi Anida

Hier bespreek ek en Sonja die plesiere van vryhandstikwerk met die masjien.











Sonja het toe ook nie op haar laat wag nie en weggetrek en sommer my bakkie vir my deurgestik.  Ongelukkig was die tafels wat die kerk tot ons beskikking gestel het so vrek hoog dat die arme vrou moes staan om by te kom om te kan kwilt.  Miskien het sy gestaan en kwilt om vir ons te wys hoe professioneel sy eintlik is?

Ek was maar te dankbaar dat sy my masjien beset het, want toe kon ek begin om te proe aan die heerlike Cabernet Sauvignon wat Rina vir ons gebring het.

'n Mens kan sien waar die arme Rina haar dae deurbring, want selfs hier in die kerksaal, gaan werk sy pligsgetrou in die kombuis!  Kombuis of te nie, haar bakkie was klaar en reggesit om te droog.













Kokkewiet fluks aan die vryhandstik om haar bakkie aanmekaar te hou.





Die 'tweeling' (Breggie en Charlene) altyd met groot glimlagte op hul gesigte, besig met hul bakkies.





Hier is Breggie se deurgestikte bakkie - sy het sommer 'n nuwe vryhandstik patroon daarop geoefen- reg om gedroog te word.


Soos gewoonlik geen tekort aan kos nie en as my liewe kort geheue my nie alweer gefaal het en ek onthou het dat ons die aand nog 'n ete gehad het nie, sou ek nie so veel geeët het nie, maar nou ja, gedane sake het geen keer nie.

Rina, wat omtrent familie drama die week gehad het - skoonma het geval en haar elmboog vergruis en susterskind het haar motor gerol - het besluit om te ontlaai deur vir ons 2 bottels wyn te bring.  Nou vra my, Rina en drank, gee nooit te veel goeie dinge af nie en dit was ook nie lank nie of sy praat my om om saam met haar 'n gesinkroniseerde Kung Fu demonstrasie te gee.  Lyk nie of daar te veel sinkronisasie was nie na die wyn nie.












Nader aan die waarheid is dat ons eintlik probeer dans het, maar gits kan 2 oumense nou so verspot lyk en ek glo vas dat met die wyn in, het ons tien teen een gedink ons is 'cool', jonk en 'sexy'.  Nee kyk, my ma het my gewaarsku teen die verkeerde vriende, maar luister ek????

Hier probeer ek naam red deur kuis te lyk vir 'n foto, maar het toe skoon vergeet van al die glase wyn langs my.  Gits en die verdekselse Petro (wat die foto geneem het) is kastig 'n fotograaf.  Kon die vrou dan nie maar net inge'zoom' het  en die glase afgesny het nie?

Wyn en Kung Fu vertoning of te nie, ek was 'n gehoorsame student in die klas en my bakkie is klaar.  Connie is ook klaar met haar bakkie en as ek nie so dom was en nie geweet het hoe om die foto van my selfoon op my rekenaar te kry nie, sou ek hare ook hierby gesit het.










Ons is ook heerlik bederf in dat Ria vir ons elkeen 'n geskenkie gegee het, groepleidster Marie het ons ook bederf met 'n lappie, sjokolade, naalde en 'n borduurgaretjie en ek het 'n ekstra bederf by Kokkewiet in die vorm van 'n vrugtekoek gekry.  Sy het seker al gehoor dat ek nou nie juis bekendheid sal verwerf vir my bakwerk nie.  Dankie julle, dit word opreg waardeer.

Tot die 14de Januarie 2012 wanneer ons weer bymekaarkom, wens ons al ons vriende 'n wonderlike Kerstyd en Nuwe Jaar toe.  Ry veilig, geniet die gesin en familie, rus ordentlik uit, want volgende jaar werk ons volstoom aan die feesdinge.