Sunday, February 5, 2012

2012: Februarie

Nee kyk, ek het vir groepleidster, Marie gesê dat ons groep nou geweldig agteruitgaan.  Verlede jaar Februarie is ons begroet met rooi eetgoed, rooi wyn en almal se rooi uitrustings, spesiaal vir Valentynsdag.  Ons eie lekker bederfie aan onsself.

Hierdie jaar is die enigste rooi wat my begroet het toe ek die saal binnestap, Anida se rooi hemp en 'n spul Coke bottels!  Anida het nog sommer nou die dag lekker in die Kaap kerjakker terwyl ons ander al aan die werk was en dit is dus geen wonder dat sy so spesiaal gevoel het nie.


Ons groep werk natuurlik hiermee vir ons bydrae tot ons nasionale kwiltfees in 2013 en laat een derduiwel nou net sê dat ons nie ons kant gebring het nie.  Gits, ons het 'n hele dag se eet en drink prysgegee!

Connie het hierdie maand vir 'show & tell' gesorg deurdat sy haar voltooide beginnerskwilt saamgebring het. Ek moet darem net noem dat die kwilt met die hand gekwilt is.  Mooi so Connie, dit wil gedoen word.

Kwiltmaat Rina beweer dat sy nie net by die huis sit en niksdoen soos ons almal dink nie (wel met R20 000,00 wengeld in jou sak vir wat sal jy nou iets wil doen?) en het vir ons 'n foto gebring van 'n paneel wat sy gekwilt het as 'n geskenk vir 'n kind.  Hier moet ons almal op die kamera na die bewys kyk.

Dan is groepdag natuurlik ook nie volledig as Rina nie, soos gebruiklik, haar mannewales uithaal nie.  Iemand het 'n sak serpte geskenk vir een van ons om 'n kwilt mee te maak.  Een van die serpe is huistoe vir een van die vroue se manlief (ons noem geen name nie) en toe krap Rina alte heerlik in die sak en probeer raai waar die rooi strik die beste sal pas.

Hier is Rina se 'partner in crime' saam met haar op die foto en alhoewel Dokter Bettie so 'n sagte ou glimlaggie het, is als wat uit daai liewe mondjie uitkom, nou ook nie van so 'n aard dat ek dit kan publiseer nie.  Laat ek volstaan deur te sê dat ek redelike skerp raad teen hittegloede gekry het!

Noudat ek weer deur die foto's kyk, het ons darem 'n rooierige tema vir Februarie gehad.  Ons is nog so 100 bottels kort, maar elke lid gaan probeer om 'n klompie by die huis klaar te maak sodat ons weer Maart 'n bietjie kan KWILT!

Groepleidster Marie het versoek dat ons beurte maak om elke maand iets kwiltverwant met die groep te deel.  Dit kan enige-iets wees, 'n interessante blok, 'n tegniek, iets wat jy op die internet raakgeloop het, 'n kwilt 'tool' en hoe om dit te gebruik. (Dink aan wat Kokkewiet en Ria ons reeds gewys het).

Ek het geoffer om Maart vir ons iets te wys en ek sal julle later laat weet wat en of julle iets moet saambring.  Ek moet nog besluit wat ek gaan wys.  So dit gee almal genoeg tyd om solank te begin soek of 'n voorbeeld te maak.

ONTHOU:  Oranje kwiltergilde kwartaalvergadering:  Saterdag, 11 Februarie om 9vm, Altonasingel.

Wednesday, February 1, 2012

Kyk so 'n gelukkige derduiwel!!

Liewe vriendin Rina is tans baie gelukkiger as enige van ons ander.  Kyk net na hierdie lekker prysie wat sy gewen het.  BAIE GELUK Rina, jy verdien dit!!