Saturday, March 3, 2012

2012: Maart

'n Besige dag vir ons groep en nadat ons vir 2 maande kliphard gewerk het aan projekte vir ons Nasionale Kwiltfees in 2013, het ons besluit om die maand weer ons eie ding te doen.

Ons het vir Sonja, ons gilde se tesourier, genooi om vir ons 'n 3-D middel vierkant blokkie te kom demonstreer en sommer vinnig het Sonja almal aan die werk gehad.
Sonja verduidelik met Connie wat aandagtig luister
Lappies klaar gesny en die groep is kliphard aan die werk.

Sonja het vir ons Jolita Geel, 'n lid van die 'Rotary Cutter' groep se kwilt, waar sy hierdie blokkie as 'n randstrook gebruik het, kom wys.
Jolita Geel se kwilt met sy interessante randstrook
Dit was genoeg motivering vir almal en sommer gou-gou, het elkeen met haar eie blokkies gespog.

Ek het so 'n bietjie gekul deurdat ek al verlede Saterdag begin het om my blokkies te maak en dus vandag met 'n laken vol vasgespelde blokkies by die groep kon opdaag.

Connie het weer vir "show and  tell" gesorg deur haar voltooide 'Claerhout's' vir ons te kom wys.
Anida (links) help vir Connie vashou aan haar kwilte
Charlene het nadat sy haar blokkies voltooi het, aangegaan met 'n kwilt wat sy vir haar seun se verjaardag in April maak en ons kan nie help om te wonder of die outjie 'n 3-D middelblok randstrook gaan kry nie.

Groepleidster Marie, het 'n dol dag gehad en haar moederlike pligte langs die sportgronde nagekom en met 'n beseerde kind opgeëindig.

Bettie en Ria het 'n bietjie rondgery en kon nie hierdie maand se groepie dag bywoon nie.