Sunday, May 6, 2012

2012: Mei

Nee kyk, sonder groepleidster, Marie, teenwoordig het die lede van die groep omtrent uitgehaal en gewys.  Marie moes nog haar pligte by die skou nakom, maar Connie het haar deeglik verteenwoordig en ons op hoogte gebring van al die nuutste planne en besluite wat geneem moet word.  Soos gewoonlik het Connie ook nie op haar laat wag toe daar vir "Show & Tell" gewys moes word nie.  Connie se pragtig Kleurvolle Kubuskwilt klaargemaak vir 'n dubbelbed.

Rina en Kokkewiet laat hulle ook nou nie so maklik intimideer nie en het self met hul voltooide Kleurvolle Kubuskwilte kom spog.


Charlene se kwilt vir haar seun se bokant is klaar en merke word nou noukeurig aangebring om die outjie deur te stik.  Dit wat reeds gedoen is, lyk pragtig so ek kan maar weet dat die voltooide projek perfek gaan wees.

Vandat Rina ook 'n bietjie van die gholfbaan wegbly, bring sy sommer nou 2 kwilte vir "Show & Tell" en hier is een van haar ouer projekte ook voltooi.  Jy raak windgat nê?  Rina se man het ook op ons groepiedag sy groot 60ste verjaardag gevier.  Baie geluk, Dries.  Dis seker die dat Rina nou so ywerig raak.  Sy berei haar nou voor op haar aftree dae.

Breggie se kwilt vir haar man is ook klaar en weereens staan ek verstom oor die spoed waarteen kwilte klaarkom terwyl die dames almal werk.

Ek kan ongelukkig nie wys waaraan Ria gewerk het nie aangesien dit 'n projek vir die fees was, maar glo my as ek sê Ria werk HARD om al daardie ewige lyntjies oormekaar te laat kom.

Bettie was afwesig, Anida het aan haar beginnerskwilt gewerk, ek het myself met 'n handwerkie besig gehou en Sonja het haar gunsteling gesegde "ek kom julle dophou" toegepas.  Sonja ons wag vir 'n voltooide projek van jou kant af hoor.