Wednesday, June 12, 2013

2013: Mei

Hierdie maand was ons groep se aktiwiteite weer terug na normaal en het ons die 3 ure saam spandeer deur sommer net heerlik aan dit te werk waaraan ons wou of moes klaarkry.

Ek het aan handkwiltwerk gedoen op 'n bitter ou projek wat ongelukkig net uitgehaal word as daar tennis op TV is (Roland Garros en Wimbledon) want dis doodeenvoudig net te warm om ander tye onder die reuse kwilt te sit en werk.  So ek vermoed die projek gaan nou 'n hele paar jaar neem om te voltooi.

Anida het besluit om haar 3 ure te gebruik om broeke se some in te sit.  Ek dink as ons dit vooraf geweet het, sou baie meer van ons self ons broeke na haar wou bring.
Bettie wou nie haar gesig wys vir die foto nie omdat sy voel dat die kwilt al te veel gewys is en sy nog nie klaar is nie.  Hou moed, die einde kom darem al hoe nader.
Breggie werk nog eenstryk deur aan haar hoenderkwilt en ek dink die kleurvolle prentjie gaan 'n gesig wees om te sien as dit klaar is.
Charlene het jou werklikwaar nog tyd gekry om aan haar Graffiti blokkies te werk ongeag dat sy halfpad deur ons bymekaarkoms eers moes ry om 'n kind by sy aktiwiteite te gaan haal.  Die vele deugde van 'n ma darem......
Dit lyk of Connie boedel oorgee, maar nee, die vrou van vele talente het haar kwiltwerk vandag verruil vir 'n bietjie breiwerk.
Kokkewiet het wys besluit om 'n baba kombersie om te hekel.  In die koue sou ek die outjie liewers op my skoot laat lĂȘ vir 'n bietjie hitte.
En is die hekelwerk van Linda nie absoluut pragtig nie?  Ek kan al die mooiste sak hiervan voorstel, maar ek dink Linda mik dalk groter.
Groepleidster Marie het darem ook gemaak of sy iets doen.  Gewoonlik gil sy net op ons om goed te moet doen.
Petro het nog van haar verborge talente gewys toe sy met die allerpragtigste kunskwilt blokke na vore kom.  Nee gits, daar is hope talent in die groep.
Ria is besig met 'n "freezer paper" appliek BOM en in die mooiste kleure.  Nog iets om na uit te sien as dit klaar is.
Rina druk besig met haar Graffiti blokke vir ons uitruil projek.
Teen die tyd wat ek hierdie foto's op het, is almal weer druk besig met hul normale werksroetine, maar volgende maand hou ons Nasionale kwiltfees in Bloemfontein en die maand daarna maak ons weer so.

Sunday, April 14, 2013

2013: April

Van enige kwiltwerk was daar nie op hierdie bymekaarkoms enige sprake nie.  Ons moes pak vir ons Nasionale Kwiltfees wat in Julie vanjaar hier in ons tuisdorp gehou word.  Ons groep werk egter heerlik saam en sommer gou-gou het ons 'n goeie stelsel gevind waar ons ernstig begin oopvou, pak en tel het.  Hier is ons in aksie.

v.l.n.r:  Marie, Rina en Breggie

v.l.n.r:  Kokkewiet, Anida, Marie, Ria (se hare), Linda en Connie
 En dan ons amper voltooide eindresultaat.

Ons het ons beplande halfpadmerk met die verpakking bereik en kan dus volgende maand die ander helfte doen.  Vele hande, ligte werk.

Voordat die groot verpakking egter begin het, het Anida en Petro gou vir ons hul nuutste voltooide skeppings kom wys, net om ons almal te herinner dat ons eintlik nog kwilters en nie pakkers is nie!  Dis pragtig julle.
Anida se "scrappy Bargello" - 'n patroon van Iessie Steenberg

Petro met haar harte kwilt

Monday, February 4, 2013

2013: Februarie

Ons eerste bymekaarkoms van die jaar is sommer met 'n Valentyns tema afgeskop, toe groepleidster, Marie, vir ons eetgoed in pienk en rooi gebring het.











Ons kon elkeen aangaan met ons eie werk en daar het alreeds groot opwinding geheers oor van die graffiti blokke wat klaar was en al uitgeruil is.