Monday, December 3, 2012

2012: Desember

Ons groepie het ons laaste vergadering op 1 Desember gehad terwyl die mees welkome reën buite geval het.  Soos gewoonlik was daar nie 'n gebrek aan kos nie en almal se geskenkies wat ons moes uitruil, was netjies verpak.












Afgesien van Petro wat hard moes werk om haar kleinkind se onderbaadjie vir sy doop die volgende dag moes klaarmaak, het daar by die ander van ons nie veel gebeur nie.  Eet en drink het voorrang geniet.




Alhoewel dit na aanleiding van die foto nie gelyk het of groepleidster Marie baie lus was om ons te sien nie, het sy darem die plan van aksie vir die volgende jaar met ons bespreek.




Vir al haar geduld, beplanning en om ons almal op hoogte te hou van wat wanneer moet gebeur, het sy hierdie blykie van waardering ontvang.

Ek wil ook vir die hele groep dankie sê vir my heerlike bederf geskenk en dit net omdat ek alte lekker nonsens van jul almal hier op die blog kan praat.  Dankie julle!

Dan lyk dit of die hele groep heel opgewonde is oor 'n voorstel vir 'n projek vir volgende jaar wat Karin van die Rafels groep met ons gedeel het.  Heelwat werk daaraan verbonde, maar ek dink dit kan tog heel interessant uitdraai.  Dames, ek kan nie wag om jul eerste graffiti blokke te sien nie.  My eerste een is al klaar!

Monday, November 5, 2012

2012: November

Ek het ongelukkig 2 maande van ons groepie byeenkomste misgeloop, maar het dit darem net so voor die einde van die jaar terug gemaak.  Ons groep was weereens nie voltallig nie, maar die van ons wat wel daar was, was almal druk besig met ons eie projekte.




Kokkewiet spog met haar Elvis paneel al die pad van London af en ons sien daarna uit om haar voltooide muurbehangsel van die legende te sien.  Verder het sy nog 'n reuse taak aangepak om dasse los te trek vir 'n nuwe kwiltprojek.  Sy is nou nie iemand wat sukkel met een projek op 'n slag nie!



Breggie maak nog pligsgetrou haar hoender blokke en ek het vergeet om te vra of sy op datum is.

Bettie is so op die hond se stert met haar "free motion" kwiltblokke en begin al randstroke aanstik.

Ria is besig met 'n heerlike hand appliek kwilt wat sy van die internet afgetrek het.

Petro se kleinseun het al sy opwagting gemaak en dus sal ouma nou haar stert moet roer anders is hy een van die dae te groot vir hierdie kwilt.  Die einde is darem al in sig.

Nog 'n projek vir 'n kleinkind is die kleurvolle kwilt van Linda.

Anida se Bargello gaan 'n absolute treffer wees as sy hiermee klaar is.

Marie se kersboom is jou werklikwaar klaar, maar toe besluit sy in haar alwysheid dat die bak te klein is en nou sit sy nogsteeds en koekarretjies maak om die pot groter te kry.  Party mense hou van baie werk!




Ek het 'n laslappie hond vir kleindogter Lleia begin en darem die outjie klaar gestik onder erge druk van groepleidster Marie..... dit het kompleet soos 'n PFAFF 'sew-away' gevoel behalwe dat ek die enigste in die martelkamp was!




Vir die groeplede wat nie daar was nie, ons kom weer op 1 Desember bymekaar en elkeen bring 'n bordjie eetgoed, jou eie drankie en 'n toegedraaide geskenkie ter waarde van R50,00 (dit hoef nie kwilt verband te wees nie, maar dit bly jou keuse) saam.  Petro was so verspot om te noem dat 'n handgemaakte geskenkie meer waardeer sal word - weereens jou keuse.

Ek wil ook voorstel dat ons almal al ons gelde op datum voor of op die dag vir Marie gee sodat sy die jaar se finansies kan afsluit.

Sunday, August 5, 2012

2012: Augustus

Hierdie maand was ons groepie omtrent uitgedun, maar alle afwesiges het verskoning gemaak en is dus vergewe.  In teenstelling met verlede maand was dit 'n besonders warm wintersdag en het 'n paar van ons dit sterk oorweeg om eerder buite te gaan sit as in die aansienlik kouer kerksaal.

Marie stoom onverpoos voort met haar "Yo-Yo" kersboom en dit lyk amper of ons haar kan glo dat dit hierdie jaar klaar gaan wees.

Ek is baie lui om my masjien groepiedae saam te vat en is bitter dankbaar as ek 'n handwerkie het wat ek kan doen.  Die omboorsel van 'n kwilt was dus die ideale projek vir my.

Charlene se seun is ernstig besig om druk op haar te plaas om klaar te maak met sy kwilt en sy het die paar uur gebruik om die omboorsel te sny en te begin aanstik.  Wonder nou net of die ander kant met die hand of die masjien gedoen gaan word?

Breggie is stil-stil besig om op datum te bly met haar BOM "Funky Chickens" van Fatcatpatterns.

Petro het 'n skok aankondiging gemaak in dat haar kleinseun nou 2 weke vroeër per keisersnee die wêreld ingebring word, want die mannetjie is nou hopeloos te groot vir die kleine mamma se maag.  Petro het dus met 'n stink spoed haar babakwilt begin deurstik.

Linda besig met haar groot blokprojek met die allermooiste oranje lap.  Ek dink menig van ons begeer hierdie kwilt maar Linda maak dit vir haar eie bed.

En die laaste lid teenwoordig was Ria wat besig is met 'n pragtige poppie patroon wat sy by Quiltalk gekoop het en ek dink ons sien almal uit daarna om te sien hoe die kwilt gaan lyk as dit voltooid is.


Die volgende keer wat ons bymekaarkom, is dit amptelik Lente - kom ons hoop die weer speel saam.


Saturday, July 7, 2012

2012: Julie

Ons groepiedag val toe mooitjies op 'n koue, nat, onplesierige wintersdag, maar dis nou nie asof een van hierdie faktore 'n klomp kwilters afskrik nie.  Sommer gou-gou het Connie weer gesorg vir 'wys en prys' toe sy 'n herinneringskwilt wat sy vir haar skoonma gemaak het uitgehaal het.


Die groep stel altyd intens belang in enige voltooide werk soos wat hier gesien kan word.





Tyd vir rondstaan en kyk was daar egter nie, want die een manier om warm te word, is om aan die werk te spring en dit was ook nie lank nie toe is almal ernstig besig met haar eie projek.  Links is groepleidster Marie besig met haar "Yo-yo" kersboom wat jou werklikwaar WEER hierdie jaar klaar gaan wees.  Ons sal moet vra dat sy 'hierdie' moet begin spesifiseer..... 2012, 2013....  Breggie, regs is besig om Cornelia Hen se vere reg te vryf.


Rina (links) het vervaard 'n snyer en lap gegryp toe sy sien ek neem foto's, maar ek wonder of sy ooit by haar eie tafel was?  Petro (regs) stik nog appliekwerk aan haar eerste kleinkind se kwilt, maar sy sal haar litte moet roer, want die kleinman gaan binne die volgende maand sy opwagting maak.

Kokkewiet het vir Anida ingespan om haar te leer borduur en haar toe eenkant afgesonder om die nuwe stokperdjie onder die knie te kry terwyl Charlene (regs) nog hard aan die deurstik aan die kwilt vir haar seun is.  Foeitog sy het presies 'n maand gelede laas (met ons vorige groepdag) aan haar kwilt en masjien geraak.


Connie (links) trek alweer weg met 'n nuwe Bargello en Bettie (regs) is sterk op spoed met haar "free motion sampler".


Rina help vir Bettie met haar "free motion sampler".

Ek het besluit om nie 'n steek te werk voordat ek my nie vol lekkernye gestop het nie.  'n Mens moet darem iets hê om te verbrand!

Sussies Petro, Kokkewiet en Breggie se ma is na 'n beroerte in die hospitaal en ons dink aan hulle en hoop vir 'n spoedige herstel.  Ria se man is darem ontslaan na 'n groot operasie, maar sy was vandag eerder by hom om toe te sien dat die man ook gou gesond word.  Linda was ook in die hospitaal en ons neem haar dus glad nie kwalik dat sy besluit het om nie in hierdie weer uit te kom nie.  Sonja, was afwesig, maar ons het nie een iets van haar gehoor nie..... so Sonja...... is daar 'n kêrel waarvan jy ons nie wil vertel nie, want wat anders kan tog nou belangriker as die groepdae wees?


Thursday, June 21, 2012

Veels geluk liewe Sonja.

Ag en daar vergeet ek om op Sonja se verjaardag haar gelukwensing te plaas.  Skuus Sonja, die ouderdom haal my in.  Hoop jy het 'n wonderlike dag gehad en dat die jaar vorentoe jou net goed sal behandel.


Sunday, June 3, 2012

2012: Junie

Gits julle en so het die jaar die halfpad merk bereik en ek is amper oortuig daarvan dat nie een van ons al halfpad klaar is met als wat ons vir die jaar beplan het nie.

Ons groepie wys darem vordering of 'n nuwe projek met elke byeenkoms soos op die volgende foto's gesien kan word.

Hier wys Rina haar pragtige Bargello wat sy al in 2010 voltooi het, maar nou deurgestik en afgerond het.  Bettie het besluit om vir ons te demonstreer hoe jy suksesvol deur jou "Supreme Slider" kan stik, maar ongelukkig is die res van ons net te arm om hierdie tegniek te probeer.










Ria het aan haar tafeldoek gewerk terwyl skoonsus Kokkewiet, met haar pragtig gedoende hare, dit sterk oorweeg het om 'n nuwe projek aan te pak.












Anida het aan haar beginnerskwilt gewerk en haar vriendin, Linda, die nuutste toevoeging tot ons groep, is reeds klaar met haar beginnerskwilt en alweer druk besig met haar volgende kwilt.












En kan julle raai waarmee elkeen van die tweeling hulle besig hou?  Hier sit Breggie en Charlene en albei werk jou werklikwaar aan hoenders!  En dan wonder julle hoekom ek hulle 'die tweeling' noem?










Connie hou haar hande met breiwerk besig en Sonja worstel ook nog eenstryk met haar beginnerskwilt.












Groepleidster Marie het die grootste deel van die middag net met haarself gepraat en Petro is druk besig met 'n babakwilt vir haar kleinkind wat as als volgens plan verloop, net 'n week na my eerste kleinkind gebore behoort te word.












Ek was so hoogs intelligent om my handwerk wat ek vir die groep reggesit het, by die huis te los en het my dus met my ander verslawing besig gehou.  Dit lyk darem ook nie of Bettie te platgeslaan was oor haar "Supreme Slider" nie, want sy kon later daaroor lag.











Dan was ons groep weer vir eenkeer in 'n lang tyd voltallig en kon ons weer 'n ordentlike groepfoto neem.