Saturday, November 5, 2011

2011 November byeenkoms



As skryfster van ons blog, het ek besluit om dit voortaan as vorderingsverslag van ons groep te hou.  Sommige mense, soos die persoon hieronder, kom maand vir maand met presies dieselfde blokkies by die groep aan, maar maak nooit klaar nie.  Dus het Rina hierdie maand haar finale waarskuwing gekry om haar Kubus kwilt klaar te maak voor ons Desember byeenkoms.  Ons weet jy kan, Rina!!

Bettie het kom spog met haar amper voltooide "free motion" kwilt en ai, ek was sommer lus om nog een te maak, nadat ek hare gesien het.  Dit bly maak 'n lekker speletjie.










Hier is 2 van haar blokke van naderby gesien.












Onthou die vrou is 'n praktiserende dokter, het intussen nog 'n dogter se troue gereël en vir ons vandag die foto's kom wys.  Die mense het gewerk dat dit klap aan al die voorbereidings.  Asof dit nie genoeg is nie, maak sy toe sommer nog so vinnig tydens die groep vir ons hierdie voorbeeld van gevoude afdroogdoeke wat 'n ideale geskenk vir 'n kombuistee is.

Dit lyk kompleet soos 'n uitrusting.  Nou toe liewe Rina, laat vriendin, Bettie, vir jou 'n aansporing wees en kry tog daai Kubus kwilt klaar!

Connie het, stywe rug en al, weer vandag by ons ingeskakel en sy is kliphard besig om haar Beginnerskwilt met die hand te kwilt.  Dit lyk pragtig.













Twee sussies, Breggie en Kokkewiet, het hul voltooide Beginnerskwilte vir ons kom wys en dit lyk my die hele familie is so kunstig en talentvol.


Breggie het intussen aanbeweeg en maak 'n Karre kwilt vir haar man.  Baie appliekwerk, maar ons weet sy kan dit doen.  Kokkewiet gaan nou in alle erns haar Kubus kwilt begin.

Anida, kan na haar oogoperasie, weer presies sien wat sy aanvang en het ook nie op haar laat wag om 'n lekker "scrappy triangle" kwilt vir haar seun te begin nie.  Lyk my sy het sommer so vinnig-vinnig vir haar 'n kortpad uitgewerk en dit behoort haar nie te lank te neem om te voltooi nie.
Sonja, wat 'n bietjie laat was, het haar so stomgeskrik toe ek met kamera en al op haar afstorm dat sy nog moes krap om te wys waaraan sy wou werk.  Sy is besig met die kwartaal se Lotto blokke en dan moet haar Beginnerskwilt ook nog aanmekaarkom.  Nog genoeg om jou mee besig te hou, nê Sonja?











Charlene, wat al verlede maand haar voltooide Beginnerskwilt kom wys het, is alweer volstoom aan die werk aan 'n "four patch" kwilt vir haar pa.  Van pa's gepraat, het julle die mooi liedjie vir sy pa gehoor, wat Snotkop sing?

Charlene was ook erg trots op Kevin, haar seunskind in graad 7 met sy 7 onderskeidings.  Soos ek gesê het, ek vermoed hy aard na sy pa???

Petro jakker nog heerlik oorsee rond en dink natuurlik nie eers aan ons nie.  Laaste wat haar familie van haar gehoor het, was sy in Amsterdam, dis nou nadat madam in Engeland was.  Wee jy, party mens, het ook al die pret!

Liewe Ria het alweer verskoning gemaak.  Gits, die vrou het hopeloos te veel ysters op die vuur en sukkel om by haar eie sosiale skedule in te pas.

Groepleidster, Marie, werk, soos Rina, nou al vir maande aan dieselfde ding, maar waar Rina darem met 'n kwilt sukkel, ploeter Marie op EEN blok aan en kom nie klaar nie en dan lyk sy nog verdomp trots daarop! 


Toe sy boonop vandag lostrek en praat, het sy ook omtrent nie klaargekom nie, maar ons het GROOT dinge rondom ons pligte by ons Nasionale Kwiltfees in 2013 bespreek.  Baie werk, min geld, maar ons vat die outjies stukkie vir stukkie en kry dit gedoen, want ons KAN.

Marie kon ook spog met haar oudste seun, Christo, wat 2 goue medaljes vir skyfskiet gewen het.  Stil kind die................ aard beslis ook na sy pa!!

Ek kon beswaarlik begin met my handwerk BOM, want so moes ek net notas neem dat dit klap omdat die koppie nou mos nie meer alles wil onthou nie.

Ons gesels weer volgende maand!



2011 Oktober byeenkoms

Ek was ongelukkig siek met hierdie vergadering, maar groepleidster Marie, het pligsgetrou haar kamera saamgevat sodat ons darem kan sien wat als gebeur het tydens die byeenkoms.




Charlene het met haar voltooide beginnerskwilt kom spog en ai, sy het werklik genoeg rede om daaroor te spog.  Dis so mooi.  Dankie Charlene.





Breggie lyk al te dankbaar vir die foto onderbreking terwyl sy aan haar beginnerskwilt werk.

Dit lyk kompleet of dokter Bettie hier vir Rina vertel "noudat die troue agter die rug is, het ek niks oor nie..... nie geld nie, nie energie nie en kyk ook nie lap om aan te werk nie!"  Baie geluk Bettie, ons kan nie wag om die foto's van jou dogter se troue te sien nie.

Saam met my was daar nog 'n hele spul van ons groep afwesig vir verskillende redes:
Kokkewiet:- was jou werklikwaar alweer siek.  Die longontsteking wil haar nou maar eenmaal nie 'n breek gee nie.
Connie:- het 'n rugoperasie gehad en het seker nie kans gesien om vir 3 ure lank te staan en wieg of op die vloer te lê nie.
Anida:-  het 'n oogoperasie gehad.  Nou gaan sy wraggies mooi sien hoe om haar kwilte perfek te maak.
Sonja:- moes haar ma gaan haal en dit maak nou nie saak hoe groot ons raak nie, as ma praat, luister ons!
Petro:- het haar pakkasie vir haar oorsese reis reggekry.  Hoe gelukkig kan 'n mens wees?
Ria:- ek weer ongelukkig nie hoekom sy nie by ons groepie kon wees nie, maar ek is seker daar was 'n goeie verskoning, want wie wil nou sulke goeie geselskap vermy?

Tot November se vergadering, lekker kwilt!

Friday, November 4, 2011

2011 September byeenkoms

Ai en in die gewoel vergeet ek toe skoon om van ons September byeenkoms te vertel en nou kan die koppie mos ook nie meer als onthou wat gebeur het nie.

Ons beplan nie vir elke groepsbyeenkoms 'n tegniek of nuwe kwilt nie, maar gebruik die tyd om aan al ons UFO's te werk.  Hierdie kker het ek my kamera by die huis laat lê en groepleidster, Marie, het dus met haar kamera gespeel.

Ek is doodeenvoudig te lui om my sware masjien te laai en saam te vat, dus verkies ek om 'n handwerkie te doen en nee, ek sit nie met my voete op 'n ander stoel omdat ek gemaklik, lui of ryk is nie.  Ek het gevind dat dit die stremming van my rug afvat, veral met handwerk waar 'n mens geneig is om vooroor te leun.


My kwiltmaatjie, Karin, het spesiaal haar kerkklere aangetrek om vir ons te kom kuier.

Breggie met haar 'crazy patch' blok in rooi en pers vir PFAFF se kwartaallikse "Block Lotto"

Petro by die ligtafel en sy lyk maar net so kwaai, eintlik 'n liewe dier.

Sonja hard aan die stik.  Sy is beslis nie te lui om haar masjien saam te ry nie.

Kokkewiet bitter na aan klaar met haar beginnerskwilt en ek het die foto's van die voltooide kwilt gesien, dis asemrowend mooi!


Ria, altyd met 'n glimlag op haar gesig, besig met Iessie se Bargello kwilt in die allermooiste kleure.


Rina meet en pas om haar Kleurvolle Kubus kwilt aanmekaar te kry.

Ons sit koppe bymekaar om Rina te help met die Kleurvolle Kubus en dankie tog vir Breggie se skerp geheue, want as arme Rina na my moes luister was dit een generale flop.

En hier is die hele groep, behalwe natuurlik die afwesiges en Marie wat agter die kamer gestaan het, aan't werk.