Saturday, November 6, 2010

Breggie se familie groei

Een van ons groeplede, Breggie, het haar gesin aangevul met die 2 allerpragtigste katjies, Kadaffi en Daisy en soos op die foto's gesien kan word, het die tweetjies 'n ereplek in ma se hart en word sekerlik geweldig bederf.  Ek dink ek moet my mede groeplede waarsku om nou al te begin spaar vir ingeval ma Breggie ons na die tweetjies se verjaarsdae gaan nooi sodat ons maar geskenke kan koop wat die bedorwe brokkies tevrede gaan stel.  Geniet hulle Breggie.

2010 November byeenkoms

Skaars ons oë uitgevee of die maand was alweer om en tyd vir ons volgende byeenkoms.  Ons beginnersprojekte begin nou vorm aanneem en al lyk of ons iets hiervan kan maak.  Hier is 2 van die beginnerskwilte in wording.
Hannetjie en Marie
Hierdie maand het Hannetjie ons bederf met perskes uit haar tuin (ek hoop nie ek moet iets uit my tuin gee nie, want dit sal net slakke kan wees!!) en Rina het vir ons elk 'n pakkie lekkers gegee.  Ons het weer 4 blokke baasgeraak en so tussendeur die werk die notule van die vergadering bespreek en beplan wat ons vir die laaste vergadering van die jaar gaan doen.  Hier is die groep hard aan die werk.

Breggie en Charlene

 
Rina en Bettie

 
Kokkewiet en Petro het gaan wegkruip toe die foto's geneem word en Sonja en Melanie was ongelukkig afwesig.



En die wenner is.........

Ons groep is nie bietjie trots op die feit dat die algehele wenner van die mussies vir prematuur babas gewen is deur een van ons groeplede nie.  Rina het jou werlikwaar omtrent 'n vyfde van al die mussies wat ingehandig is, gebrei of laat brei.  Baie geluk en baie dankie Rina!!

Hier staan Rina trots by haar prys wat sy tydens die laaste kwartaalvergadering ontvang het, maar omdat sy ongelukkig 'n bietjie laat gekom het, het groepleidster, Marie, haar prys namens haar ontvang asook haar roos vir lief en leed aangesien Rina se seun, Andries, nog baie siek is.  Karin, die huidige sekretaresse van die gilde, oorhandig die roos aan Marie.
Die derde prys is deur Hettie gewen dus het 2 van die 3 pryse in ons groep beland.  'n Mens kan mos net suksesvol vorentoe beweeg in so 'n groep!!

Saturday, October 16, 2010

2010 Oktober byeenkoms

Met vandag se byeenkoms kon ons groep opreg trots op onsself wees. Ons het gehoor gegee aan ‘n versoek van die gilde se voorsitster in dat ons mussies moet brei vir prematuur babas as ‘n welwillendheidsgebaar. Ons het nie op ons laat wag nie en so te midde in ons kwilt huiswerk, het ons groep met niks minder as 192 mussies vorendag gekom nie!!! Baie geluk en baie dankie dames, ‘n hand wat nie oop is om te gee nie kan ongelukkig ook nie ontvang nie dus…. mag jul ryklik geseën word.



Nadat ons nou almal so mooi vir die foto stilgestaan het – Hannetjie sonder haar “lipstick”, was dit weer skouer aan die wiel om die volgende 3 blokke onder die knie te kry . Bettie, ons dokter en na dese die “voeder” in ons groep het ons bederf met aarbeie (uit haar eie tuin) en roomys en so oud soos sommige van ons is, was dit ook die eerste keer wat ons gedroogde aarbeie geproe het. Met genoeg huiswerk om te doen, kon ons weer huiswaarts keer tot ons volgende byeenkoms in November.


Saturday, September 4, 2010

2010 September byeenkoms

Die tweede les van ons groep se beginnerskursus en omtrent almal se huiswerk van les 1 was op datum. Nadat ‘n R5,00 straf blikke voorgestel is vir die wat nie hul huiswerk voltooi het nie, was Melanie vinnig om voor te stel dat ons dit liewer ‘n straf dop moet maak. Dan soos met alle groepe is daar natuurlik ook die gewone politiek – die wat MEER huiswerk wil hê en die ander wat voel genoeg is genoeg. Met elke nuwe tegniek is die moontlik ook raakgesien hoe een tegniek ‘n volgrootte volgende kwilt kan word. Hou die groep fyn dop vir ons eerste dubbelbed heksagon kwilt!!
En soos op die foto’s duidelik gesien kan word, loop Marie die heeltyd net rond terwyl die ander om haar probeer werk. Ai……….. ons liewe groepleidster – ons sukkel maar.

Saturday, August 14, 2010

2010 Augustus byeenkoms

Die Lente is so tussendeur die paar onverwagse koue dae sterk oppad en hierdie groepie het besluit om so ‘n bietjie te “spring clean” en van al die spinnerakke ontslae te raak en hul geheues te verfris met ‘n beginnerskursus.
Hard aan die werkwerk
Vandag was daar dus min tyd vir rondsit en gesels, want ons moes waarde vir ons klasgeld kry en 2 blokke in een les voltooi. Daar is toe fyn geluister, vinnig notas gemaak en dan begin sny en by die oorspronklike reëls gehou dat dit klap. Hierdie blokke moes presies wees omdat ons darem al ‘n rukkie lank kwilt, het ons geen verskoning vir onakkuraatheid nie.
Hannetjie
Breggie











‘n Ander manier van doen is soms voorgestel sodat ons darem kan tred hou met tegnologie en nuwe gereedskap tot ons beskikking, maar die keuse is nogsteeds gelaat om dit op die tradisionele manier te doen. ‘n Video tutoraal is gekyk sodat ons darem so ietwat van ‘n internasionale opinie ook kon kry en nie net vasgevang word in ons eie klein wêreldjie nie.

Connie
Petro











Almal het flink gewerk en as beloning het Bettie vir ons almal ‘n gratis pen en skryfblok, vir die wat wou hê, saamgebring. Groepleidster Marie, wat nie vandag by ons was nie omdat sy ‘n troue wou gaan bywoon, het haar klas vooruit gedoen en darem so vinnig by ons kom inloer om te spog met haar voltooide huiswerk en die netheid waarmee haar handwerk blok voltooi is. Wat ‘n goeie voorbeeld vir die res van die groep!
Bettie en Rina

Thursday, July 8, 2010

2010 Julie byeenkoms

Die enigste persoon wat iets vir “show & tell” gebring het, was Hannetjie Nagel met haar voltooide “free-motion” kwilt en ai, is dit nie pragtig nie. Ons groep het toe sommer so vinnig-vinnig begin met voorbeelde van die verneukblok en hier kan elkeen nou net so groot gaan of klein bly soos wat hulle wil. Die idée was net om ‘n vinnige blok te maak vir daardie onverwagse geskenkkwilt wat ons dalk eendag vir iemand wil gee. Dan het die hele groep besluit om van Augustus af weer ‘n beginners kursus te doen sommer net om weer al die tegnieke onder die knie te kry en so ‘n bietjie die geheues te verfris.

Monday, May 24, 2010

Kwartaalvergadering 15 Mei 2010

Nogsteeds besig om die 21ste verjaardag van die Oranje Kwiltersgilde te vier, het ons besluit om ons 72 blok "freemotion" kwilte te kom uitstal en die kwilte het werklik baie aandag getrek.  Ek vermoed juis omdat "freemotion" die deel van kwiltwerk is, waarvan almal so ietwat wegskram en afgesien van 'n bietjie ongemaklik, kan ek dit werklik nie verstaan nie.
Die dames wat nie hul kwilte voltooi het nie, kan nou rustig sonder enige druk verder voortgaan en ek glo vas dat almal sal klaarmaak.  Dit is darem net te veel materiaal om sommer net iewers in 'n kas gedruk te word.  Connie was die eerste lid van die groep wat haar kwilt voltooi het en hier is sy by haar pronkstuk.

Sunday, May 9, 2010

2010 Mei byeenkoms

Hierdie Saterdag middae gaan vir my elke keer net te vinnig verby. ‘n Mens kom net lekker op spoed en dan is die tyd alweer om, maar soos gewoonlik het ons groep heerlik saamgewerk en van die lede het selfs die eerste winterweer met ‘n koffie sop ingewy tydens die bymekaarkoms.



Die “freemotion” kwilte is MOOI…… ek het sommer trane in my oë gekry toe ek almal se vordering gesien het. Die dames het SO hard gewerk en ek twyfel of hulle werklik besef presies hoeveel hulle in 3 maande vermag het. Ek sien so uit na die kwartaalvergadering op die 15de sodat ek sommer blatant met hulle kan spog.

Hierdie Saterdag het ons egter die dames se inskrywings vir die skou bewonder, geleer uit die opbouende kritiek wat op hul inskrywings gedoen is en besluit om elke keer net met onsself te kompeteer sodat ons met elke probeerslag kan verbeter.


Hier is Petro (wit hemp) by haar tweede plek kwilt, Kokkewiet by haar eerste plek en ‘n foto van hulle 2 saam met Marie wat vir hulle die beginnerskursus aangebied het. Ons is trots op julle twee, doen so voort.

Wednesday, March 17, 2010

PFAFF sew-away Yzerfontein

Soos vantevore genoem was 3 van ons groep bevoorreg genoeg om die PFAFF sew-away te Yzerfontein by te woon.  Afgesien van die ongelooflike afstand op die pad, was dit een groot fees en ons gasvrou en die PFAFF organiseerders het geen moeite ontsien om dit, soos altyd, 'n onvergeetlike ervaring te maak nie.
Soos die gesegde gaan "all work and no play........" het ons ook nie NET ALTYD gewerk nie en tussendeur is daar heerlik gedobbel - met my 10 sent wengeld het ek my berus by die OTM masjiene, maar vir Rina van Straten was dit die moeite werd.

Ons gasvrou het ons elke aand bederf met van die heerlikste vars seekos en so kuier-kuier langs die pad het ons allerhande interessante plekke besoek en 'n bietjie meer ingeligd geraak oor ons onmiddelike omgewing.  Hierdie saamtrekke is werklik uit die boonste rakke en as enig-een nog ooit 'n rede gesoek het om 'n PFAFF masjien te koop, is dit die ideale een.

Aan Rina wat slegte nuus ontvang het met ons terugkeer, jy is elke dag in ons gedagtes en gebede.  Bly sterk, jy is nie alleen nie.

Sunday, February 28, 2010

2010 Maart byeenkoms

'n Klompie van ons, insluitend groepleidster Marie, op die dag waarop ons groepie in Maart sou bymekaarkom na Yzerfontein vertrek vir 'n PFAFF "sew away", het ons die datum vervroeg na 26
Februarie en dit verander na 'n deurnag by Hettie se huis.  Die dames het van 6 nm aangekom en hul groot trek (sommige het selfs kussings gebring asof daar tyd vir slaap sou wees!!).

Daar is in alle erns gestik en idees uitgeruil en vir mekaar prentjies gewys. Sommige soos Melanie het doodstil voortgewerk terwyl Rina van Straaten haar lostrek-tegniek probeer vervolmaak het. Bettie was ten gronde toe sy uitgevind het haar koekiedrukker idee was toe nie so 'n nuwe uitvindsel soos wat sy graag wou glo nie.

Kokkewiet, Petro en Breggie het ongelukkig (vir ons nie vir hulle nie) vele meer talente as net laslappies en het ons vroeër die aand verlaat sodat hulle slaggereed vir 'n ander stokperdjie op die Saterdag kon wees. Connie is al oor die hond se stert en moet nou net haar voltooide blokke aanmekaarkry en Hannetjie het ook al 72 haar blokke klaar voor die nag om is.

Sonja is ook vroeër huis toe, maar nie omdat daar belangriker dinge op haar gewag het nie, sy wou doodeenvoudig net gaan SLAAP!



Ons liewe leidster, Marie, het jou werklikwaar die uitdaging wat haar man aan haar vir die aand gestel het - om 20 blokke te voltooi - nagekom, maar ons almal kan getuig dat dit nie sonder 'n grootskaalse gekerm gegaan het nie en die oomblik toe die laaste blok gestik is - (o ja, sy het werklik na die voltooiing van elke blok, weer by EEN begin en AL haar blokke getel...... elke keer!!)

Daar was hopeloos te veel lekkergoed vir enige gesonde gestel en as ek so na die bakke "sweets" op die tafels gekyk het, het dit somtyds vir my gevoel of ek by 'n kinderpartytjie was. So tussen die eet deur, glo ek darem dat die dames goeie vordering gemaak het en almal is net voor 5vm die Saterdagoggend terug na hul
onderskeie huise.

2010 - Februarie bymekaarkoms

Ons groepie kom een maal per maand bymekaar, tans in die Fichardtpark kerksaal en 6 Februarie 2010 was ons eerste bymekaarkoms vir die jaar.Teen die tyd het bykans almal hul materiaal en kleurkeuses vir die "freemotion sampler" gehad en het die dag in alle erns begin stik.

Ek het toerusting by die universiteit gehuur sodat ons na Leah Day se videos op haar webwerf op 'n groot skerm kon kyk, sodat ons almal kon sien hoe maklik sy dit laat lyk. Die jonge dame is werklik 'n inspirasie vir enigeen wat nog ooit te bang was om "freemotion quilting" te probeer.

2009 Jaareind funksie

As die skrywer van die artikels vir hierdie "blog", het ek (HettiePringle) by hierdie groepie teen die einde (Oktober 2009) aangesluit. Marie Coetzee, die groepleidster het toe gevra dat ek (en/of enige ander lid van die groep) met idees vorendag moes kom, waaraan ons as groep gesamentlik kon werk.

Ek het toe seker so 'n maand of 2 voordat sy hierdie versoek gerig het, Leah Day se "blog" genaamd Daystyledesigns ontdek en heerlik na haar videos gekyk waarop sy "freemotion quilting" verduidelik.

So tussendeur het ek ook begin oefen en dit was dus amper voor die hand liggend dat ek so 'n projek sou voorstel, maar eers moes ek 'n voorbeeld maak.

Kliphard gewerk en met die afsluitingsfunksie van die groep einde 2009, kon ek die voorbeeld vir hulle wys en was almal al emosioneel gereed om met die reuse werk te begin.