Sunday, May 9, 2010

2010 Mei byeenkoms

Hierdie Saterdag middae gaan vir my elke keer net te vinnig verby. ‘n Mens kom net lekker op spoed en dan is die tyd alweer om, maar soos gewoonlik het ons groep heerlik saamgewerk en van die lede het selfs die eerste winterweer met ‘n koffie sop ingewy tydens die bymekaarkoms.



Die “freemotion” kwilte is MOOI…… ek het sommer trane in my oë gekry toe ek almal se vordering gesien het. Die dames het SO hard gewerk en ek twyfel of hulle werklik besef presies hoeveel hulle in 3 maande vermag het. Ek sien so uit na die kwartaalvergadering op die 15de sodat ek sommer blatant met hulle kan spog.

Hierdie Saterdag het ons egter die dames se inskrywings vir die skou bewonder, geleer uit die opbouende kritiek wat op hul inskrywings gedoen is en besluit om elke keer net met onsself te kompeteer sodat ons met elke probeerslag kan verbeter.


Hier is Petro (wit hemp) by haar tweede plek kwilt, Kokkewiet by haar eerste plek en ‘n foto van hulle 2 saam met Marie wat vir hulle die beginnerskursus aangebied het. Ons is trots op julle twee, doen so voort.

No comments:

Post a Comment