Saturday, November 5, 2011

2011 November byeenkoms



As skryfster van ons blog, het ek besluit om dit voortaan as vorderingsverslag van ons groep te hou.  Sommige mense, soos die persoon hieronder, kom maand vir maand met presies dieselfde blokkies by die groep aan, maar maak nooit klaar nie.  Dus het Rina hierdie maand haar finale waarskuwing gekry om haar Kubus kwilt klaar te maak voor ons Desember byeenkoms.  Ons weet jy kan, Rina!!

Bettie het kom spog met haar amper voltooide "free motion" kwilt en ai, ek was sommer lus om nog een te maak, nadat ek hare gesien het.  Dit bly maak 'n lekker speletjie.










Hier is 2 van haar blokke van naderby gesien.












Onthou die vrou is 'n praktiserende dokter, het intussen nog 'n dogter se troue gereël en vir ons vandag die foto's kom wys.  Die mense het gewerk dat dit klap aan al die voorbereidings.  Asof dit nie genoeg is nie, maak sy toe sommer nog so vinnig tydens die groep vir ons hierdie voorbeeld van gevoude afdroogdoeke wat 'n ideale geskenk vir 'n kombuistee is.

Dit lyk kompleet soos 'n uitrusting.  Nou toe liewe Rina, laat vriendin, Bettie, vir jou 'n aansporing wees en kry tog daai Kubus kwilt klaar!

Connie het, stywe rug en al, weer vandag by ons ingeskakel en sy is kliphard besig om haar Beginnerskwilt met die hand te kwilt.  Dit lyk pragtig.













Twee sussies, Breggie en Kokkewiet, het hul voltooide Beginnerskwilte vir ons kom wys en dit lyk my die hele familie is so kunstig en talentvol.


Breggie het intussen aanbeweeg en maak 'n Karre kwilt vir haar man.  Baie appliekwerk, maar ons weet sy kan dit doen.  Kokkewiet gaan nou in alle erns haar Kubus kwilt begin.

Anida, kan na haar oogoperasie, weer presies sien wat sy aanvang en het ook nie op haar laat wag om 'n lekker "scrappy triangle" kwilt vir haar seun te begin nie.  Lyk my sy het sommer so vinnig-vinnig vir haar 'n kortpad uitgewerk en dit behoort haar nie te lank te neem om te voltooi nie.
Sonja, wat 'n bietjie laat was, het haar so stomgeskrik toe ek met kamera en al op haar afstorm dat sy nog moes krap om te wys waaraan sy wou werk.  Sy is besig met die kwartaal se Lotto blokke en dan moet haar Beginnerskwilt ook nog aanmekaarkom.  Nog genoeg om jou mee besig te hou, nê Sonja?











Charlene, wat al verlede maand haar voltooide Beginnerskwilt kom wys het, is alweer volstoom aan die werk aan 'n "four patch" kwilt vir haar pa.  Van pa's gepraat, het julle die mooi liedjie vir sy pa gehoor, wat Snotkop sing?

Charlene was ook erg trots op Kevin, haar seunskind in graad 7 met sy 7 onderskeidings.  Soos ek gesê het, ek vermoed hy aard na sy pa???

Petro jakker nog heerlik oorsee rond en dink natuurlik nie eers aan ons nie.  Laaste wat haar familie van haar gehoor het, was sy in Amsterdam, dis nou nadat madam in Engeland was.  Wee jy, party mens, het ook al die pret!

Liewe Ria het alweer verskoning gemaak.  Gits, die vrou het hopeloos te veel ysters op die vuur en sukkel om by haar eie sosiale skedule in te pas.

Groepleidster, Marie, werk, soos Rina, nou al vir maande aan dieselfde ding, maar waar Rina darem met 'n kwilt sukkel, ploeter Marie op EEN blok aan en kom nie klaar nie en dan lyk sy nog verdomp trots daarop! 


Toe sy boonop vandag lostrek en praat, het sy ook omtrent nie klaargekom nie, maar ons het GROOT dinge rondom ons pligte by ons Nasionale Kwiltfees in 2013 bespreek.  Baie werk, min geld, maar ons vat die outjies stukkie vir stukkie en kry dit gedoen, want ons KAN.

Marie kon ook spog met haar oudste seun, Christo, wat 2 goue medaljes vir skyfskiet gewen het.  Stil kind die................ aard beslis ook na sy pa!!

Ek kon beswaarlik begin met my handwerk BOM, want so moes ek net notas neem dat dit klap omdat die koppie nou mos nie meer alles wil onthou nie.

Ons gesels weer volgende maand!



No comments:

Post a Comment